News

Sjokolade 'brownies' met Turkse lekkers en Merlot

 
IMG_9712.jpg

In 'n video reeks met vier kort episodes gesels ek en die Suid Afrikaanse huiskok, Errieda Du Toit met een van ons land se geliefde kospersoonlikhede, Herman Lensing.

Suid Afrikaanse kospersoonlikheid, jongste kosredakteur vir SARIE Tydskrif sowel as skrywer van treffer kookboeke - is maar net 'n paar titels wat die Suid Afrikaanse ikoon al onder sy naam kan vaspen.

Ons gesels oor etiket, tafelmaniere, nostalgiese tradisies en luister na Herman se moets-en-moenies van so ver as bring-en-braais, blomme vir die gasvrou tot hoe 'n mens 'n hoenderbeentjie moet afeet.

Herman pas vir ons by Du Toitskloof Merlot - hy is toeganklik en 'n onthaal-mens.

Beide die wyngroentjie en kenner vind aanklank by Merlot en die wyn kan geniet word van boere-canapé reg deur tot die nagereg.

In Deel 4 bederf Errieda vir Herman met wat hy noem sy 'spirit ingredient’ - sjokolade. Geniet hiermee Errieda se heerlike resep vir haar Sjokolade 'brownies’ met Turkse lekkers en vat sommer 'n lekker slukkie wyn terwyl jy die sjokolade van jou vingers aflek!

Deel 1

Deel 2

Deel 3

Deel 4


Sjokolade 'brownies’
met Turkse lekkers

Bestandele

  • 150g botter, plus ekstra vir smeer

  • 200g goeie gehalte donkersjokolade, gekap

  • 3 eiers

  • 225g strooisuiker

  • 5ml vanieljegeursel

  • 75g koekmeel

  • 30g kakaopoeier

  • 5ml kits koffiepoeier

  • 2,5ml soutvlokkies

  • 150g grof gekapte Turkse lekkers

Metode

  1. Maak 'n bottel Du Toitskloof Merlot oop en skink 'n glas wyn vir jouself.

  2. Voer ‘n vierkantige brownie-koekpan met bakpapier uit en smeer met botter. Voorverhit oond tot 180 °C.

  3. Mikrogolf die botter en sjokolade 30 sekondes en roer deur, herhaal in sarsies tot gesmelt. Laat afkoel.

  4. Klits eiers, strooisuiker en vanieljegeursel met elektriese menger tot lintstadium. Roer die gesmelte sjokolade- en bottermengsel geleidelik by met ‘n spatel.

  5. Sif koekmeel, kakaopoeier en sout oor, voeg koffiepoeier en Turkse lekkers by en meng liggies by met ‘n spatel.

  6. Maak jou wynglas weer vol.

  7. Giet die beslag in die voorbereide brownie-pan. Bak sowat 30-35 minute tot gestol en gaar, maar steeds klam. Laat oornag in die pan in die yskas afkoel. Sny in blokkies.